Kampioenetrofee 1998

Kampioenetrofee 1998

Kenteken van die Kampioenetrofee 1998
Datums 24 Oktober – 1 November
Bestuurder Internasionale Krieketraad (IKR)
Krieketformaat Internasionale eendagkrieket (EDI)
Toernooiformaat Uitklopfase
Gashere Vlag van Bangladesj Bangladesj
Kampioen Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika (1ste titel)
Naaswenner Vlag van Wes-Indië Wes-Indië
Deelnemers 9
Wedstryde gespeel 8
Speler van die reeks Vlag van Suid-Afrika Jacques Kallis
Meeste lopies Vlag van Wes-Indië Philo Wallace (221)[1]
Meeste paaltjies Vlag van Suid-Afrika Jacques Kallis (8)[2]
← Geen
2000

Die Kampioenetrofee 1998 (Engels: 1998 ICC KnockOut Trophy) is van 24 Oktober tot 1 November 1998 in Bangladesj beslis. Dit was die eerste Kampioenetrofee in EDI-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is en ná die Asiatiese Beker 1988 die tweede vername kriekettoernooi in Bangladesj. Destyds is na dié toernooi as die Uitkloptrofee 1998 (KnockOut Trophy 1998) verwys, maar sedert die 2002-toernooi staan dit as Kampioenetrofee bekend. Die Kampioenetrofee 1998 is deur die Indiese konglomeraatmaatskappy ITC Beperk geborg en staan dus amptelik bekend as die Wills Internasionale Beker 1998 (Wills International Cup), genoem na dié maatskappy se sigarethandelsmerk Wills Navy Cut.[3] Die toernooi is oorspronklik geskoei op FIFA se Sokker-Konfederasiebeker, waar die beste spanne van hul onderskeie konfederasies teen mekaar meeding, maar in hierdie geval het die beste spanne van die IKR EDI-Kampioenskap teen mekaar meegeding.[4] Die IKR het die kort kriekettoernooi van stapel gestuur om fondse in te samel vir die ontwikkeling van die spel in nietoetsspelende lande.[5]

Die destydse nege toetskrieketlande het aan die Kampioenetrofee 1998 deelgeneem: Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe. Aangesien die toernooi net uit die uitklopfase bestaan het moes die twee laagste spanne in die EDI-ranglys om die agtste plek speel. Vervolgens het Nieu-Seeland teen Zimbabwe in die voorwedstryd gespeel. Nieu-Seeland het Zimbabwe met vyf paaltjies verslaan en sodoende sy plek in die kwarteindrondte bespreek. Al die agt wedstryde is op die Bangabandhu Nasionale Stadion in Dhaka gespeel. Die toekomstige toetsland en gasheer Bangladesj het egter nie aan dié toernooi deelgeneem nie.

In die eindstryd het Suid-Afrika Wes-Indië met vier paaltjies verslaan en sodoende sy eerste internasionale kriekettitel ingepalm.[6]

  1. (en) "Records in Wills International Cup, 1998/99 – Most Runs". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  2. (en) "Records in Wills International Cup, 1998/99 – Most Wickets". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  3. (en) "The Mini World Cup, 1998–99 – When cricket really was the winner". ESPNcricinfo, Wisden Cricketers’ Almanack. 2000. Besoek op 25 Junie 2023.
  4. (en) "ICC Champions Trophy – History". Engelse en Walliese Krieketraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Oktober 2014. Besoek op 18 Oktober 2014.
  5. (en) Syed Ashfaqul Haque (2 November 1998). "Curtain falls amid high ICC hopes (2 November 1998)". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  6. (en) Firdose Moonda (27 Maart 2013). "Victorious in Dhaka". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne